By Yaël Malgas; Weslander Gemeenskapnuus.
Ná met meer as ’n maand in Paternoster het vier Duitsers hulle só goed by St. Augustustine’s laerskool ingeburger, hul leerders sal dalk eersdaags Duits begin praat.
Die Paternoster Vrywilligerprojek het in Oktober by die skool afgeskop ná Paternoster Visserye, die Paternoster People’s Partnership (PPP) en Duitse uitgewer Christian Neuber besluit het om by die laerskool uit the help.
Neuber het vrywillige onderwys-studente van die Universiteit van die Toegepaste Wetenskappe Ravensburg-Weingarten gekry om hand by te sit by die skool. Deur sy stigting - Kinder Frodern - Zukunft Stiften - sal talle studente vir drie maande tot ’n jaar by St Augustine’s praktiese ervaring opdoen.
“Ons probeer om in die kinders van Paternoster te belê en met behulp van dié projek is ons nader aan daardie doel. Dink net hoe anders die dorp, land en selfs wereld kan wees as elke kind van dié dorp hul volle potensiaal bereik,” sê Jaco van der Westhuizen van Paternoster Visserye.
Die studente help tans by die skool met huiswerk-ondersteuning en ’n naskoolklub. Sowat 125 kinders van die skool se mere as 200 leerders is deel van die klub. Benewens die skoolwerk bied die studente ook sport, behartig deur student Benedikt Kersten, en kultuur-aktiwiteite aan.
Joana Kilhert sê dit is wonderlik om die kinders te sien ontwikkel veral met die musiekblyspel wat haar mede-student Jana-Sophie Abt reël. Dié konsert sal in Januarie op die planke gebring word.
Steffie Schwarz, wat binnekort na Duitsland terugkeer na drie maande, sê sy het reeds planne om na die Weskus-dorpie terug te keer.
Skoolhoof Celestine Barends sê sy is verheug deur al die bykomende hulp. Haar grootste bekommernis was aanvanklik die taalverskil, maar sy sê nou praat almal by die skool beter Engels. Soveel só dat daar nou gereeld “please”, “thank you” en “yes, I understand” op die skoolterrein gehoor word.
“Dit is die beste ding wat met die skool gebeur het. Die Studente is jonk en vol energie en kom goed met die kinders oor die weg.
“Hulle verlig ons personeel se taak deur veral die moeiliker leerders, wat die klasse ontwring, uit te haal en alleen met hullen te werk,” vertel Barends.
Sy sê die groep studente werk volgens ’n goeie struktuur met streng reëls en goeie dissipline.
Saam met die “goeie werk” van die personeel en studente doen Barends ook ’n beroep op die ouers in die gemeenskap om meer betrokke te raak by hul kinders se onderrig.
Volgens Neuber is dit belangrik dat die skool sowel as die studente waardevolle ervaring opdoen.
Hy vertel hoe Duitse klaskamers die afgelope jare verander het met die instroming van vlugtelinge na Europa. “Waar one leerders oorwegend Duits was, het ons nou leerders van regoor die wêreld met verskillende agtergronde, kulture en gelowe. “Dit is goed vir hierdie studente om te leer hoe om met kinders van ’n diverse agtergrond te werk,” meen Neuber.
Hy sê die hoop is om die projek permanent in te stel en sodoende ’n wen-wen geleentheid vir almal betrokke te skep.
Comments