top of page

Internasionale konferensie op Paternoster bied 'n blik op die toekoms

Joan Kruger. Weskus Weekliks Oktober 2019.


'n Kinderdorp met opvoedkundige en ontspanningsgeriewe vir die kinders van Paternoster is een van die verreikende planne wat met afgevaardigdes by die onlangse derde jaarlikse konferensie van die Paternoster Project NPC gedeel is.


Die Paternoster Vrywilligerprojek sal ook uitgebrei word na gemeenskappe in Swellendam en Namibië. Dit is die eerste keer dat 'n groep onderwyskundiges uit Namibië die jaarlikse konferensie bywoon en hulle was vuur en vlam oor die waarde van die projek. 'n Loodsprogram sal vroeg volgende jaar in die IIKaras-streek onderneem word.


Volgens Christian Neuber, die oprigter van die Duitse Stigting "Koester Kinders – Skep 'n Toekoms", het die konferensie wat van 23 tot 25 Oktober op Paternoster gehou is geleentheid gebied aan mense wat 'n visie en passie vir kinders se toekoms deel om kennis te neem van wat in Paternoster en elders aangepak word.


Christian Neuber, grondlegger van die Stigting "Koester Kinders – Skep 'n Toekoms" aan die woord.

Sewentig afgevaardigdes uit Suid-Afrika, Duitsland en Namibië het die konferensie bygewoon. In sy slotopmerkings het prof. Arnold van Zyl, president van die Koöperatiewe Staatsuniversiteit Baden-Württemberg, lof gehad vir die manier waarop deelnemers die konferensie met hul kennis en ervaring verryk het.


Onder die afgevaardigdes was gemeenskapsleiers, ouers, verteenwoordigers van die Departement van Onderwys, Boland Rugby, die Saldanhabaai Munisipaliteit, en opvoedkundiges van die Universiteit Stellenbosch en die deelstaat Baden-Württemberg. Die huidige span van agt vrywilligers het ook die konferensie meegemaak. Dit was die eerste keer dat opvoedkundiges uit Namibië die konferensie bygewoon het.


Dr. Jerome Joorst van die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch wat die hooftoespraak gelewer het, het agterna opgemerk dat die konferensie gekenmerk is deur welwillendheid en openhartige besprekings oor samewerking om opvoedkundige uitdagings die hoof te bied.


Die groep plaaslike en internasionale afgevaardigdes na die Derde Paternoster Project Konferensie, saam met die 'oranje baadjies', soos die vrywilligers wat in Paternoster werk bekend staan.

As deel van die Paternoster Project NPC bied vrywilligers van die Universiteit Stellenbosch en van verskeie universiteite in Duitsland elke middag 'n gestruktureerde program vir die kinders van Paternoster aan. Die doel van die program is om die kinders vir die toekoms toe te rus en ook om die plaaslike erfenis te bewaar.


"Die plaaslike deelname aan die projek het geweldig toegeneem en dit het duidelik uit die konferensie geblyk," het Maike Reinhardt, bestuurder van die Paternoster Vrywilligerprojek, gesê. "Ons wil graag die ervaring en insigte wat ons met hierdie projek opgedoen het deel met ander streke waar kinders ook bykomende steun nodig het. Die eerste loodsprojekte word reeds vir skole in Namibië en op Swellendam beplan."


In boeiende konferensievoorleggings is ervarings van ander vrywilligerprojekte soos die Mbkweny Jeugsentrum in die Paarl gedeel en kon deelnemers mekaar inspireer. Doelwitte vir die volgende jaar is in die onderskeie werkswinkels vir die Paternoster Project NPC uitgestippel. "Ek is veral bly oor die klem wat op die ontwikkeling van leesvaardigheid gelê word as 'n manier om kinders se denke en taalvaardigheid te ontwikkel," het Joan Kruger, organiseerder van die Storiehoek gesê. Die opbrengs van 'n verjaardagkalender met treffende foto's van Paternoster stel die projek in staat om steeds nuwe boeke aan te skaf.


As deel van die bevordering van die plaaslike erfenis het 'n rieldansgroep van Vredenburg onder leiding van Kobus Joseph by die opening van die konferensie opgetree en almal met hul flink danspassies beïndruk.



bottom of page